Home
Afrikaans


Boere krygsgevangenes - Boere-geïnterneerdes in Portugal

Boere krygsgevangenes
Uit vrees vir plaaslike simpatiseerdes wat die Boere krygsgevangenes kon bevry besluit Brittanje om van hierdie Boere oorsee te stuur. Sowat 6000 van hulle is uiteindelik na kampe te Deadwood en Broadbottom in St.Helena en sowat 5000 na Ceylon. Ongeveer 4600 na Bermuda en ander is geneem na Indië.
Portugal het sowat 1443, waarvan die meeste krygsgevangenes was, ontvang

Boere-geïnterneerdes in Portugal. 1901 - 1902
Namate die Britse opmars tydens die oorlog gevorder het, het daar by vreemdelinge wat aan die Boerekant geveg het, maar ook by die Boeregesinne uit die Kaapkolonie, Natal, die Vrystaat en Transvaal 'n begeerte ontstaan om elders 'n tydelike heenkome te probeer vind. Om die naderende oorlogsgevaar te ontkom, het hulle na Mosambiek uitgewyk. Om gevangeneming vry te spring, het meer as 700 burgers die Mosambiekse grens oorgesteek en hul wapens op 18 September 1900 neergelê - 'n voorbeeld wat later deur nog burgers nagevolg is. Onder die Boere wat die grens oorgesteek het, was leidende figure soos Genl. F.J. Pienaar en kommandante H.P. Mostert, N.J. Grobler en W.J. Geerling.

Weens onvoeldoende huisvestingfasaliteite in Lourenco Marques, maar ook onder druk van die Engelse, het die Portugese owerheid besluit om die Boere-geïnterneerdes na Portugal te stuur. Met uitsondering van buitelandse vrywilligers, wat met die Oostenrykse skip Styria na Triëst verskeep is, en geïnterneerde burgers wat hulle aan die Engelse owerheid in Lourenco Marques oorgegee het, is die ander Boere en hul gesinne aanboord van die transportskepe Benguella en Zaire na Portugal gestuur.

Genl. Pienaar en enkele ander geïnterneerdes is met die Portugese oorlogskip Afonso de Albuquerque na Portugal gebring. Hierdie meer as duisend geïnterneerdes is in begin Maart 1901 in groepe kort na mekaar na Portugal verskeep. Direk na hul aankoms in Lissabon is die Boere-geïnterneerdes per trein na 'n sestal dorpe in sentraal-Portugal vervoer, waar hulle vir ongeveer twee jaar sou vertoef. Hierdie dorpe was: Tomar, 143 km noordoos van Lissabon; Abrantes 'n pragtige stadjie in die middel van Portugal; Alcobaco, 108 km noord van Lissabon; Caldas da Rainha,100 km noord van Lissabon; Penice, 'n belangrike vissershawe, 96 km van Lissabon en Oeiras, ongeveer 19 km wes van Lissabon. Net buite die dorp langs die see is Fort de Sao Juliao de Barra geleë. Wederstrewige boere was hier aangehou.

In 1902 het die Boere na Suid Afrika teruggekeer. Enkeles, soos onder ander die wat met Portugese in die huwelik getree het, het in Portugal aangebly.
Die geïnterneerdes wat met die Zaire op 25 April 1901 in Portugal aangekom het, keer terug na Suid Afrika op 18 Julie 1902.

Meer omtrent Caldas da Rainha en die geïnterneerdes daar
351 Boere-geïnterneerde mans, vroue en kinders het daar gewoon. Hulle kon later in huise in die dorp gaan woon. Baie het dit dan ook gedoen.
Caldas da Rainha beteken Die Koningin se Warmwaterbad en het sy ontstaan te danke aan koningin Leonor.
Op 'n dag reis koningin Leonor, vrou van koning Joao II, vanaf Bidos (6km suid van Caldas da Rainha) na Batalha. Onderweg na die dorp sien sy hoe mense in modderige water met 'n onaangename reuk bad om van hul kwale genees te word. Die mense vertel haar toe dat die water goed is vir rumatiek. Sy self bad toe in die water en word genees. Uit dankbaarheid het sy in 1485 'n hospitaal laat bou. Die hospitaal is in 1892 vervang deur 'n nuwe gebou (Thermal Hospital Queen Leonor) en in die sale Santa Isabel, Santa Antonia en San José is geïnterneerde Boere-offisiere gehuisves.

       
Foto 1: Pavilhões do Parque in Parque D. Carlos I (Parque D. Carlos I is 'n groot park). Pavilhões do Parque, was eens militêre barakke waarin Boere op Caldas da Rainha geïnterneer was.
Foto 2. Thermal Hospital Queen Leonor (Hospital Termal Rainha D.Leonor)