Resepte Afrikaans - Botterskorsie Geregte                      Na: Uit die Kombuis                     Home

Botterskorsie Geregte

Botterskorsie Skottel
2 botterskorsies     
3 uie
250g vars sampioene     
2 pakkies baby marrows
100g margarien     
1 pakkie bruin uiesoppoeier
1 eetlepel water

Braai uie en sampioene tot bruin. Smelt margarien en meng met die pakkie bruin uiesoppoeier en voeg water by. Pak groente
in lae en gooi soppoeier mengsel oor en roer deur. Bak in oond vir ongeveer 1 uur teen 180C. Maak bak oop en bak sonder
deksel vir 'n verdere 20 minute.

Botterskorsie - Gesondheidsbrood
125ml sonneblomsaad, gerooster       
750ml volkoringmeel
5ml koeksoda      
15ml bakpoeier
5ml sout      
250ml All-Bran-graanvlokkies
250ml gerasperde rou botterskorsie      
45ml heuning
1 ekstra groot eier, geklop      
500ml karringmelk
125ml water

Meng die sonneblomsaad, meel, koeksoda, bakpoeier, sout, graanvlokkies en botterskorsie saam. Klop die heuning, eier,
karringmelk en water saam en voeg by die droë bestanddele. Meng goed om 'n taaierige brooddeeg te vorm. Skep in 'n groot
voorbereide broodpan. Bak in 'n voorverhitte oond by 180C vir ongeveer 1 uur.
WENKE:
Dis belangrik om die sonneblomsaad liggies te rooster, anders verkleur dit groen as dit saam met die koeksoda by die ander
bestanddele gevoeg word. Moenie margarien gebruik vir die smeer van 'n broodpan nie, aangesien die brood sal vassit.
Gebruik eerder sagte botter of Holsum-groentevet. Voer net die bodem van die pan met botterpapier uit en smeer dit ook
effens met botter.

Gebakte botterskorsie met fetakaas
1 middelslag botterskorsie, in blokkies gesny      
gegeurde seesout
30ml botter     
125ml fetakaas, in blokkies gesny  
4 jong uitjies met groen lowwe, fyngekap      
3 eiers, geklop
250 ml karringmelk, room of suurroom.

Stoom die botterskorsie tot sag. Geur met sout en voeg die botter by. Voeg fetakaas en uitjies by en meng liggies deur.
Skep mengsel in 'n gesmeerde oondskottel.  Klop die eiers en karringmelk of room saam en giet oor die groente. Bak in 'n
voorverhitte oond by 180C vir 35 -40 minute of tot mooi bruin en pofferig. Sit voor met 'n tamatie-en-uieslaai en 'n bros
groenslaai as 'n vegetariese ete of as 'n bygereg.